Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 36: Die profeet Nahum
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In die boek Nahum word beskryf hoe God die stad Nineve van die Assiriërs gaan wegvee, omdat hulle God se mense wreed mishandel het.
God straf skuldiges, maar sien om na sy mense.
Boeke van die profete 36: Die profeet Nahum
Tobias: (sing) In die boeke van die profete….Haai, hallo tannie Carin! Tannie, hoeveel boeke van die profete is daar in die Bybel?
Tannie: Hallo, Tobias! Sjoe, jy begin sommer met ‘n vraag! Jongie, daar is sestien boeke in die Ou Testament wat deur profete geskryf is!
Tobias: Sjoe! So, laat ek tel… een, twee, hmm, hmm… sestien van die nege en dertig boeke van die Ou Testament is boodskappe van God aan profete? Mensig! Dis baie! So, van watter profeet hoor ons vandag?
Tannie: Tobias, maats, vandag hoor ons van Nahum. En hy moes ‘n boodskap van God gee teen die stad Nineve.
Tobias: Haai, net soos… mmm… Jona, ja Jona! Wat moes Nahum vir Nineve sê? Het hulle geluister? Wat het hulle gemaak?
Tannie: Stadig, stadig, jongie, een vraag op ‘n slag! Tobias, dit lyk vir ons of honderd en vyftig jaar verby gegaan het vandat Jona met Nineve gaan praat het. Hulle het mos toe teruggekom na God toe, maar ai, hulle het maar weer van God vergeet. Elke nuwe koning was meer wreed as die vorige een. Maar luister hoe mooi begin die boek Nahum: “Die Here is ‘n God wat wil hê dit moet goed gaan met sy volk. Hy is baie geduldig. Hy is goed vir mense wat na Hom toe hardloop as hulle bang is, maar…”
Tobias: Maar?
Tannie: Maar Hy straf die mense wat lelik is met sy mense.” En julle, dis waaroor die hele boodskap van Nahum gaan. God het vir hom gesê Hy is nou moeg vir die Nineve en die hele Assirië wat so lelik is met God se mense. Daarom gaan hulle vernietig word.
Tobias: O, aarde! So, Nahum se boodskap het nie gemaak dat hulle na God toe teruggekom het nie?
Tannie: Nee, Tobias! En hulle kon! Tussen Jona se tyd en Nahum se tyd, het ‘n ding gebeur wat ons vertel het toe ons die storie van koning Hiskia vertel het. Koning Sanherib van Assirië, wou vir Jerusalem inval. Toe bid koning Hiskia van Juda, en toe het God se engel honderd vyf en tagtig duisend soldate van Assirië in een nag doodgemaak. Hulle kon sien wie is die groot God van hemel en aarde.
Tobias: Ai, tog! Hulle moes maar geluister het.
Tannie: Maar, Tobias, die boodskap van Nahum was ook ‘n troos vir die volk van God: God het raakgesien dat Nineve so lelik is met hulle, en God sou die lelike dinge straf.
Tobias: Tannie, het Nahum vertel hoe Nineve gestraf gaan word?
Tannie: Ja, Tobias. Nahum het geprofeteer dat ‘n ander volk se soldate hulle gaan kom binne-val. Hulle gaan rooi klere dra en gaan sterk strydwaens hê. Hulle gaan die hele stad verwoes en al die mooi goud en silwer van die stad steel. Sy profesie het gepraat van water wat die paleis gaan wegspoel. En dit lyk selfs of daar ‘n brand sou wees. Nahum het geprofeteer dat die stad nooit weer opgebou sal word nie.
Tobias: Tannie, maar wat het Nineve dan gedoen aan ander mense?
Tannie: Julle, Nineve was soos die groot stad van Assirië. Die konings van Assirië wou die sterkste op aarde wees. En in Nahum se tyd was hulle die sterkste. Maar die probleem was dat hulle so sterk geword het deur lelik te wees met ander volke se mense. Hulle het stede ingevat. Hulle het hulle goed gesteel. Hulle het baie mense doodgemaak. Hulle het geglo in toordery. Hulle het niemand jammer gekry nie en het net gevat en gedoen wat hulle wou.
Tobias: Aggenee! Tannie, Nahum het die straf vir Nineve by God gehoor en moes dit vertel nog voor dit gebeur het?
Tannie: Ja, Tobias. Nahum het hierdie dinge neergeskryf omtrent sestig jaar voor dit gebeur het.
Tobias: So, is Nineve toe stukkend gebreek?
Tannie: Ja, Tobias, hy is! En toe Nineve verwoes word, het die sterk ryk van Assirië ook begin swakker word. Ons lees nie in die Bybel van die dag toe Nineve geval het nie. Ons lees wel dat die Babiloniërs die nuwe sterk ryk na die Assiriërs was. Maar in ander geskiedenisboeke lees ons dat dit die Babiloniërs was wat hulle ingeval het. Ons lees hoe sterk stormwater hulle stad se mure begin wegspoel het en hoe die stad verbrand is. Daar is nie nou meer ‘n stad Nineve nie. Al wat daar vandag is, is opgrawings van die ou stad se geboue. Vir baie, baie jare het mense omtrent nie eers geweet waar Nineve was nie.
Tobias: Tannie? Alles soos God dit vir Nahum gesê het?
Tannie: Alles, soos God dit gesê het.
Tobias: Tannie, so wat kan ons leer uit die boek van Nahum?
Tannie: Tobias, maats, ons leer dat God straf mense wat aanhou wreed en lelik is met ander mense. En ons leer dat God mense wat kom sê hulle is jammer, sal vergewe. Hy sorg vir sulke mense en het hulle lief.
Tobias: Mensig, Tannie, ek is darem bly dat die profete mooi neergeskryf het wat God gesê het. Nou kan ons dit lees! En ons kan self ook kom vra dat God ons vergewe vir ons stoute dinge.
Tannie: Net so, Tobias! Ons lees dat God kwaad raak as mense sy mense laat swaarkry. En Hy gaan daai mense straf. Maar ons lees ook dat God goed en geduldig is. En dat alle mense na Hom toe kan kom. Hy sal al ons sondes vergewe as ons regtig jammer is.
Tobias: Fantasties, wonderlik! Ek is so bly ons het so ‘n God. Maats, as ons nou groet, kan julle onthou: ons weet ons kan met Hom praat oor ons eie sondes en oor wat ons bang maak! En ons kan vir Hom sê ons is baie lief vir Hom! Jippie! Ons God is Koning oor die hele aarde! Totsiens, tot volgende keer!
***